God’s Meesterstuk
My ma het toe sy jonger was oulike sê-goed, stories en gedigte wat sy raakgelees het, bymekaar gemaak, en dit in ‘n boek geplak. Daardie jare,die sestigs, so is die gevoel wat ek maar het, was ‘n romantiese en intieme tydperk. Meisies het soos meisies aangetrek en hulself mooigemaak, gediggies geskryf en baie liefdes liedjies gesing. Mans het soos mans aangetrek en alhoewel die hippies lang hare gedra het, het hulle broeke ten minste nie soos rokke onder hulle boude gehang nie.
Maar terug na die boek. Vandat ek kan onthou, en kon lees, was dit seker my heel gunsteling boek. Ek kon weer en weer en weer deur die boek lees, en elke keer was dit so lekker. En daar is van die gedigte wat nog altyd vlak in my geheue lê. Soos die een wat ek vir julle pos. Elke keer as ek n babatjie sien dra my gedagtes die gediggie voor.
Ongelukkig weet ons nie wie die digter is of was nie, so as dit dalk jou oom of tannie of ‘n kennis is, wat die gedig geskryf het, se asseblief dankie namens my, dit is pragtig.
God’s Meesterstuk
Van slanke spierwit Lelies
Weef God ‘n vel so rein
Gee ogies van Vergeet-my-nietjies
En vorm ‘n baba klein.
Hy neem ‘n Tulp wat nooit verwelk nie
‘n Tulpie rooi en rond
Nooit was voorheen deur al die eeue
‘n Mooier sagter mond.
Hy gebruik ‘n ligrooi roosknop
Van die mooistes wat daar groei
Plant dit in die wange kuiltjie
En beveel dit daar te bloei.
Met Sy heilige hande pluk Hy
Toe twee Purperwindjies wit
Krul en vorm hul vir twee oortjies
Styf aan die hofie vasgesit.
Stuifmeel strooi Hy op die hofie
Die goudmeel uit die blommeryk
Daar sal weldrae deur Sy seën
Harelokkies weelderig pryk.
Uit blaartjies van die Madeliefies
Maak Hy vingertjies so rein
En tien troetelbare toontjies
‘n Sneeulokkie vorm die neusie so klein.
Hierdie aard met al sy rykdom
Was deel van God’s skepping sin
Maar n baba bly Sy meesterstuk
Vandat die lewe het begin.
Digter onbekend.
Marlie Viljoen



Posted in Uncategorized





