Nou is dit tyd, tyd om weer uit my kop vol gedagtes te klim, Tyd om myself los te maak van die boeie van uitstel, en uitstel en nogmals uitstel.
Dit is nie omdat daar niks is om te sê nie, of hoe dit gesê moet word nie. Ek is net nie lus om te praat nie, nie lus om aandag te gee aan enigeiets nie. En Hoekom? Ek weet regtig nie. Al wat dit kan wees is n vreeslike tekort aan inspirasie.
Maar wat beteken inspirasie, en wat is dit wat n mens inspireer, en waar kan ons daarvan koop? Dit sou so maklik wees as al die soort dinge in die vorm van n pil was, wat ons in die oggend met ontbyt kon neem. Ek dink ons sou een verskriklike ge-inspireerde spesie gewees het. Jammer ouens, so maklik is dit nie, die goeie nuus is, dit is ook nie so moeilik nie. Nee, ek praat nou nonsens, dit is eintlik net so maklik daar is ongelukkig net n “catch”. Mammie steek die bottel met pille weg.
Ek dink ek het die pille gekry.
Elke mens is anders, volmaak en spesiaal, en daarom het God vir elkeen van ons n gawe gegee. Dalk wonder ons somtyds wat die gawe is en somtyds mag dit voel of jy alweer laaste in die ry gestaan het toe dit uitgedeel was. Ek sou ook graag so mooi wou kon sing soos Celine Deon, of so pragtig wees soos Charlise Theron en die beste rolle in films wou losslaan.
Net soos wat God die mens geskape het, het Hy ook vir ons almal dieselfde gawe gegee, die gawe om te skep. Almal is nie ewe sterk of slim nie. Ek het beslis nie die verstandelike vermoë om n ruimteskip te bou, die lug in te stuur en n geleentheid vir die mensdom te skep om die maan te sien nie. Ek het ook nie stem en musikale vermoë om te skryf, te sing en musiek te skep vir mense om n na te luister nie.
Maar een ding is seker, ek het ook die gawe om skeppend te wees ontvang. Mag dit wees wanneer ek n saadjie in die grond sit en n geleentheid skep vir n boom om te groei. Mag dit wees, n koek wat ek bak en n geleentheid skep vir iemand om dit te geniet. Mag dit wees om n mooi foto te neem, n kunswerk te skep en dit te verkoop sodat iemand dit teen n muur kan hang.
Om te kan skep is verseker die grootste gawe wat ons ooit ontvang het, en almal het dit gekry. So as jy ooit voel soos ek die afgelope twee weke, on- ge- inspireerd. Teken n prentjie, Skryf n gediggie, al is dit drie reeltjies, of bou n voetstoel met hout, solank jy iets skep. Jy sal verbaas wees die vrede en inspirasie wat dit jou bring.
Dit laat my nou dink aan ons naweek op die Van der Kloof dam. Ons was so twintig avontuurlustiges wat gaan roei het. Dit was n ondervinding wat jy beslis op jou “dinge om te doen” lysie kan sit. Ons was vir 4 dae en 5 nagte in die veld, en op die water. Nie so maklik soos ons gedink het nie. Elkeen moes sorg vir sy eie kos en water wat saam moes gaan. So ook moes jy jou tent en klere saam roei elke dag. Dit was tent afslaan en inpak in die oggend en tent opslaan en uitpak in die aand. Die veld was die toilet en die dam die bad. Die moeilikste vir my was dat ek vinnig moes leer dat samewerking in n dubbel kanoe van uiterste belang is.
Maar dit was die moete werd.
Ons gids was Gavin. Kayaking was net n sport vir hom terwyl hy as elektriese ingenieur gewerk het. Ek vra toe vir hom hoe is dit dat hy sy beroep net so kon opgee. Verseker kan dit nie gaan oor geld of gemak nie. Toe se hy vir my, hy het sy sport so geniet, en hy wil graag ‘n geleentheid skep vir ander, om dit waarvoor hy so lief is, te kan ervaar en te kan kan deel in die mooi wat ons andersin nooit sou kon sien nie. 




